|
Kort historiese oorsig
In Desember 1917 het 'n klein groepie Afrikaners en 'n Skot in die Royal Hotel in Kaapstad byeengekom:
| Charlie G. Fichardt: |
Bloemfonteinse sakeman en LP vir Ladybrand (Voorsitter) |
| Willie A. Hofmeyr: |
Prokureur |
| Charlie R. Louw: |
Prokureur |
| Pieter A. Malan: |
Prokureur |
| Fred H. Dormehl: |
Voormalige versekeringsman |
| Antoon F. Benning: |
Prospekteerder en meesterbouer |
| Alfred McDowell: |
Skotse bankier en versekeringsrekenmeester |
Hofmeyr, Dormehl en Malan was ook die stigters van Nasionale Pers.
Die doel van die vergadering was om die stigting van 'n versekeringsmaatskappy te bespreek wat deur polishouers se premies kapitaal sou genereer.
Die Suid-Afrikaanse Nasionale Trust en Assuransie Maatskappij (Santam) is op 28 Maart 1918 geregistreer met Hofmeyr as voorsitter. Maar nog voor Santam geregistreer is, het die direksie reeds besluit om die lewensversekering-departement in 'n aparte maatskappy te omskep sodat langtermynwins betaalbaar aan polishouers, apart hanteer kon word van korttermynwins betaalbaar aan polishouers.
Die Suid-Afrikaanse Nasionale Lewens Assuransie Maatskappij Beperk, Sanlam, is op 8 Junie 1918 geregistreer. Sanlam, die filiaal, het gevolglik die spilpunt van die onderneming geword, terwyl Santam steeds op korttermynversekering gefokus gebly het.
Eerste jare en ontwikkeling
Die eerste jare was moeilik. Die groot depressie ná die Anglo Boere-oorlog en die Spaanse griep wat aan die einde van 1918 uitgebreek het, het groot eise tot gevolg gehad wat Sanlam swaar getref het. Desondanks, het Sanlam 'n klein wins aan die einde van die eerste jaar getoon, waarna die maatskappy se winste progressief gegroei het.
Aanvanklik het Sanlam se inkomste hoofsaaklik uit die landelike gebiede gekom. In die laat jare twintig het die maatskappy meer aktief in die stede begin inbeweeg.
- In 1935 het Sanlam die aandele van die lewensversekeringsmaatskappy, African Homes Trust (nou Metropolitan Lewens), van Santam gekoop.
- In 1940 is Federale Volksbeleggings (FVB) geregistreer, wat poliseienaars 'n aandeel in 'n groot aantal handel- en nywerheidsmaatskappye gegee het. Dit het 'n geleentheid vir wydgerigte ontwikkeling geskep, tot voordeel van polishouers, maar ook tot voordeel van Suid-Afrika en al sy mense. Die stigting van FVB het uiteindelik in die jare vyftig tot die stigting van die plaaslike nywerheids- en mynreus, Gencor, gelei.
- In 1946 is Bonuskor vir die herbelegging van polisbonusse gestig. Dit het Sanlam gehelp om kapitaal vir die ontwikkeling van Afrikanerbesigheid te mobiliseer.
- Santam het die beherende aandeelhouer gebly, maar ná uitgerekte onderhandelinge in die vyftigerjare het Sanlam op 8 Maart 1954 'n onafhanklike onderlinge lewensversekeraar, asook die grootste enkele aandeelhouer in Santam geword.
- In 1960, toe Bonuskor se kapitaal R10 miljoen beloop het, is Sankor gestig om verdere ontwikkelingsprojekte te onderneem.
Demutualisasie
In die negentigerjare het Sanlam se fokus gaandeweg verskuif van lewensversekering na die verskaffing van 'n meer omvattende reeks finansiële produkte en dienste. In 1998 is die maatskappy gedemutualiseer met Sanlam se notering op 30 November 1998 op beide die JSE Sekuriteitebeurs en die Namibiese Aandelebeurs. Dit het Sanlam van 'n onderlinge na 'n openbare maatskappy met aandeelkapitaal, naamlik Sanlam Lewensversekering Beperk, verander. Terselfdertyd is 'n aparte maatskappy, Sanlam Beperk, as moedermaatskappy vir die Sanlam groep van besighede in plek gestel. Die Groep is terselfdertyd herstruktureer in verskeie onafhanklike ondernemings wat binne 'n federale besigheidstruktuur saamwerk.
Ekonomiese bemagtigingshoogtepunte
- In 1940 is Federale Volksbeleggings (FVB) gestig om vir Afrikaners 'n vastrapplek in die sakewêreld te gee.
- In 1946 is Bonuskor geregistreer vir die herbelegging van polisbonusse. Dit het Sanlam in staat gestel om kapitaal vir die ontwikkeling van Afrikaner-ondernemings te mobiliseer.
- In 1960, toe Bonuskor se kapitaal R10 miljoen beloop het, is Sankor gestig om verdere ontwikkelingsprojekte te onderneem.
- In 1985 is Sankorp gestig om ontwikkelingsprojekte op 'n groot skaal te onderneem.
- In 1993 het Sanlam die weg gebaan vir swart ekonomiese bemagtiging deur effektiewe beheer van Metropolitan Lewens (Metlife) van Sankorp oor te dra na die swart aandeelhouers van Metlife Investment Holdings (Methold), 'n swart-beheerde maatskappy (85% swart aandeelhouding destyds), wat nou as New Africa Investments Limited (Nail) bekend staan.
- In 1996 was Sanlam die eerste maatskappy in Suider Afrika wat 'n ontwikkelingsfonds van stapel gestuur het om bemagtingsprojekte te finansier (beginkapitaal van R100 miljoen is bewillig).
- In 1998, met Sanlam se demutualisasie, is meer as 2.2 miljoen Suid-Afrikaners die geleentheid gebied om 'n aandeel in die Groep se toekoms te verkry. 'n Geskatte 32% was swart aandeelhouers en swartes het destyds sowat 20% van die aandele (direkte aandeelhouding) besit. Sanlam het ook R278 miljoen aan die regering se Umsobomvu-fonds vir werkskepping geskenk.
- Op 20 August 2002 was Sanlam een van die maatskappye wat hom by die Nedlac-spitsberaad vir die finansiële sektor tot die ontwikkeling van 'n handves vir swart bemagting vir dié sektor verbind het. Die Sanlam Raad het die maatskappy se swart bemagtingsbeleid op 4 Desember 2002 goedgekeur.
- In 2003 het Sanlam 'n omvangryke swart bemagtingstransaksie met die bemagtingskonsortium Ubuntu-Botho aangekondig. Dié transaksie was 'n beduidende mylpaal in Sanlam se geskiedenis – een waarin Ubuntu-Botho 'n aanvanklike aandeelhouding van 10% in Sanlam bekom het.
Ons logo deur die jare
In die verlede was daar min eenvormigheid wat Sanlam se logo betref, en is verskillende logos selfs oorvleuelend gebruik. So, byvoorbeeld, is die maatskappy se amptelike seël aanvanklik as embleem gebruik. Daarmee saam is 'n landkaart van Suid-Afrika, eers met 'n springbokkop en later met 'n argitekstekening van die 1932-hoofkantoor, gebruik.
In Desember 1932 is die wapenskild, ontwerp deur TO Honiball in samewerking met Prof. Blommaert van Stellenbosch, ingevoer. Die vier voëltjies (provinsies) word deur die ma gevoer en simboliseer ondersteuning en beskerming. Die gestileerde, vlieënde voëls dui spoed en vooruitgang aan en die springbok verteenwoordig Suid-Afrika.
Met Sanlam se 21ste verjaarsdag in 1939 is die embleem aangepas. Met enkele klein veranderings bly dit in gebruik tot 1953, die jaar toe die hoofkantoor na Bellville verskuif. Daarna is die nuwe logo bekendgestel: bloot die woord "Sanlam" op 'n wit of swart agtergrondblok.
Gedurende 1968 is die S-in-'n-sirkel-logo aangeneem: 'n skild vir beskerming en sekuriteit. Omstreeks 1970 word blou Sanlam se korporatiewe kleur, en word die sirkel-embleem in blou gebruik. Blou is gekies omdat dit 'n rustige, koel kleur is wat met 'n betroubare finansiële instelling vereenselwig kon word.
In 1973 word die koesterende hande-embleem in gebruik gestel. Dit toon die beskermende hande van Sanlam se finansiële kundigheid wat die wêreld van sy kliënte beskut. Die gepunte vingers beeld lewenskragtige groei en die stewige basis stabiliteit uit. Aanvanklik is dit met of sonder "Sanlam" daaronder gebruik, maar in 1991 is eersgenoemde gebruik gestandardiseer. Sedert 1998 voeg elke besigheidseenheid in die Groep sy eie naam by waar 'n meer spesifieke kliëntefokus nodig is.
|
 1918
|
 1926
|
 1933
|
 1940
|
|
 1953
|
 1968
|
 1973
|
 1991
| |