|
Agtergrond
In 2004 het 'n wydgerigte swart bemagtigingskonsortium onder sakeman Patrice Motsepe 'n 10%-aandeelhouding in Sanlam bekom in wat een van die mees verreikende swart bemagtigingstransaksies tot op hede sou word.
Die Ubuntu-Botho-transaksie* het verskeie belanghebbers bymekaar gebring wat klein ondernemings op selfs die laagste vlak deur toegang tot kapitaal en besigheidsvernuf sou bemagtig. Dit is ook daarop gemik om dié ondernemings deur 'n netwerk van kruisverkoop-geleenthede te laat groei.
Die sukses van die onderneming was merkwaardig – terwyl die Ubuntu-Botho-transaksie bygedra het tot 'n beduidende toename in die Sanlam-aandeelprys, het dié versiende transaksie Sanlam gehelp om sy eie transformasie na 'n werklik verteenwoordigende Suid-Afrikaanse maatskappy in die snelbaan te plaas.
Sanlam se uitvoerende hoof, Johan van Zyl, het die transaksie bestempel as een wat Sanlam se toewyding tot betekenisvolle transformasie toon. "Dit verteenwoordig die geleentheid om nuwe en groeiende markte te diens en om die volle ekonomiese mag van ons diverse samelewing in te span."
Patrice Motsepe, Ubuntu-Botho se voorsitter, sê die waarde van die transaksie lê daarin dat dit Ubuntu-Botho die geleentheid bied om deel te neem aan en by te dra tot die bevordering van Sanlam as die voorste finansiële dienstegroep in Suid-Afrika. "Arm en werklose Suid-Afrikaners sal ook uit die transaksie voordeel trek deur die Sanlam Ubuntu-Botho Gemeenskapsontwikkelingstrust."
*Ubuntu en Botho is onderskeidelik die Nguni en Sotho woorde wat losweg vertaal beteken "Ek is, want jy is" – 'n mens is onlosmaaklik deel van sy gemeenskap en het daarom 'n verantwoordelikheid teenoor daardie gemeenskap. |