Is Dit Tyd om U Eie Finansies te Hersien?

1 Augustus 2019

’n Paar jaar gelede het die ekonoom Charles Davis persoonlike geldsake omskryf as “hoe jy jou finansies gebruik... vir alles wat vir jou saak maak”.

Soos ons land se beleidsbepalers, het ons almal verskeie prioriteite wat almal aandag verg wanneer ons moet besluit waar ons ons geld gaan bestee. Hierdie prioriteite sluit dikwels verpligtinge én versugtinge oor die kort en lang termyn in.

Die wrede werklikheid is dat baie Suid-Afrikaners van maand tot maand leef, met die uitdaging om genoeg rande bymekaar te skraap om uitgawes te dek. En wanneer ekstra kontant beskikbaar is, lyk dit miskien te karig om enige beduidende verskil te maak aan spaarfondse, beleggings of skuldterugbetalings. Die waarheid is egter dat elke klein bedraggie wat gespaar word, ’n groot verskil kan maak oor die lang termyn.

Nie seker hoe om ’n verskil te begin maak nie? Hier is ons vyf topwenke vir u persoonlike finansies en hoe om hierdie Spaarmaand ’n kopskuif te maak:

Wenk 1: Gee Aandag aan die Spaargaping

Verstaan (en aanvaar verantwoordelikheid vir) die verskil tussen wat u verdien en wat u bestee.

U netto spaarkoers (die bedrag wat u in verhouding tot u inkomste spaar) is waarskynlik die belangrikste aanwyser in u persoonlike ekonomie. Hierdie verskil kan u ’n blaaskans bied wanneer die onverwagte gebeur. Dit kan ook vir u ’n geleentheid skep om u droomvakansie te bewaarheid of om ’n deposito vir ’n huis neer te sit. U moet hierdie verskil ook gebruik om vir u toekomstige self in u aftreejare voorsiening te maak. Ten slotte stel dit u in staat om ander te help en tot ’n beter toekoms vir alle Suid-Afrikaners by te dra.

As u nie hierdie verskil beheer nie, sal dit u beheer. Wanneer dít gebeur, fokus die bestuur van u inkomste hoofsaaklik op die befondsing van u huidige leefstyl. U kan vasval in die hier en nou, en sukkel om ’n idee te kry van wat in die toekoms moontlik is.

Wenk 2: Skakel Oordadige Besteding uit

Moenie in die bestedingspiraal vasgevang raak nie.

Pasop vir uitspattige besteding – wanneer u bestee om u rykdom of sosiale status te weerspieël. Hierdie tipe besteding sal u spaargaping uitwis. Wanneer dit deur skuld soos kredietkaarte en winkelkaarte gefinansier word, plaas u vorige bestedingsbesluite u finansies in ’n wurggreep. Dis omdat dit heeltyd knyp-knyp gaan – enige ekstra inkomste soos ’n bonus of huurinkomste kan kortstondige verligting bring, maar dit gaan u nie ’n finansiële voorsprong gee nie.

Dis moeilik om iets te beheer wat u nie verstaan nie, en moeilik om iets te verstaan wat u nie meet nie. Skryf dus neer wat u uitgee, sodat u enige uitspattige en oordadige besteding kan identifiseer en uitskakel waar moontlik.

Wenk 3: Kies Een Finansiële Doelwit

As u geld opsysit, ken ’n deel hiervan toe aan ’n spaardoelwit. Dit kan enige wens wees wat u koester, maar nie nou kan bekostig nie.

Selfs al kon u nog nie van u inkomste vir spaar opsy sit nie, identifiseer ’n spaardoelwit. Dit sal u help om vorentoe meer doeltreffend u bestedingsprioriteite te bepaal. U besef dalk dat van die dinge waaraan u gereeld geld bestee, eintlik minder belangrik is as om vir u doelwit te spaar.

Wanneer u een spaardoelwit kies, kan u ook ander doelwitte identifiseer waarop u kan fokus wanneer u die regte spaargewoonte aankweek. Dit kan byvoorbeeld meer toekomsgerigte doelwitte wees.

Oorweeg dit om met die hulp van Sanlam Goal Manager te spaar, wat u in staat stel om doelwitte te stel en u vordering met betrekking tot u spaardoelwitte dop te hou.

Wenk 4: Wees Ook Mikro-ambisieus

Fokus op die klein dingetjies wat u in u daaglikse lewe kan opoffer om meer geld te spaar. U kan byvoorbeeld middagete inpak in plaas daarvan om kos by die werk te koop, of een of twee van u daaglikse cappuccinos vir die kantoorkoffie verruil.

As u nog nie uitgewerk het wat u groter, meer ambisieuse spaardoelwitte is nie, kan u nog steeds baie vermag deur te fokus op wat u kan spaar, hier en nou.

Wenk 5: Kry Deskundige Hulp

U hoef dit nie alleen te doen nie.

Dan Gilbert gesels in sy bondige TED Talk, “Why we make bad decisions” oor twee tipes foute wat mense geneig is om te maak met finansiële besluite: foute met betrekking tot geraamde waarde, en die geraamde waarskynlikheid van gebeure. As dit moeiik is om u in te dink wat die langtermyn finansiële gevolge van u besluite gaan wees, beteken dit u sal óf uiters noukeurig en selfkrities moet kyk hoe u u persoonlike geldsake bestuur, óf hulp moet vra. Die meeste mense vind baat by finansiële beplanningsadvies en bystand.

Dit is uiteindelik belangrik dat u hulp kry by iemand wat u genoeg op u gemak laat voel om ’n openhartige en eerlike gesprek hieroor te hê.