Skip Ribbon Commands
Skip to main content
Skip Navigation LinksMedia Centre

​​​​​​

 

Dit is nie net ontwikkelende of ontluikende ekonomieë wat deur ‘n kultuur van baantjies vir boeties gekenmerk word nie, maar toenemend ook Westerse ontwikkelde lande, veral as stemwerwery om beleid en wetgewing te beïnvloed, die befondsing van politieke partye deur besigheid, en die redding van maatskappye wat in die moeilikheid is, ingesluit word. Vir die hoogs gerespekteerde tydskrif, Foreign Affairs, om ’n artikel onder die opskrif “Kleptocracy in America”1,te publiseer soos dit sopas gedoen het, is veelseggend.

Soos die skrywer van die artikel, Sarah Chayes, dit stel: “Corruption is not so much a problem for governments as it is an approach to government, one chosen by far too many rulers today. Rather than a weakness or a disorder, it (corruption/cronyism) is the effective functioning of systems designed to enrich the powerful.”

Uit ‘n Suid-Afrikaanse perspektief is dit opmerklik dat die BRICS-lande hoog op die ranglys is wat baantjies vir boeties betref. Volgens The Economist se 2016 “Crony-Capitalism Index” beklee Rusland die eerste plek, Indië die 9de, China die 11de, Suid-Afrika die 13de en Brasilië die 15de plek2.

Minxin Pei3 (Professor in Regering aan Claremont McKenna College) het uitstekende werk gedoen om die diepgaande uitwerking van baantjies vir boeties aan die lig te bring, terwyl Peter Podkopaev en Natalie Duffy4 reguit sê dat Rusland ‘n kleptokrasie is waarin die staat deur ‘n misdadige elite vir eie gewin beheer word ten koste van gewone burgers. Brasilië is ook geteister deur hoëprofiel-korrupsiesake wat ‘n hoogtepunt bereik het toe gewilde voormalige president Luiz Inácio Lula da Silva skuldig bevind is aan korrupsie met betrekking tot die staatsbeheerde oliemaatskappy Petrobras. Indië staan uit as die enigste lid van BRICS wat die afgelope paar jaar daarin geslaag het om baantjies vir boeties in ‘n mate hok te slaan.

In Pei se beskrywing van baantjies vir boeties in China is daar heelwat wat op Suid-Afrika van toepassing is. Hy sê byvoorbeeld dat samespanning wat korrupsie betref in die teorie sowel as die praktyk meer vernietigend as individuele korrupsie is omdat sulke optrede die organisatoriese en normatiewe struktuur van die staat vernietig, dit moeiliker maak om te bespeur en groter finansiële wins vir die plegers daarvan meebring.

Sami Karam5 (die stigter en redakteur van populyst.net) het onlangs sover gegaan om te sê dat baantjies vir boeties ‘n al hoe groter deel van ekonomiese bedrywigheid verower het en dat dit ‘n afsonderlike stelsel is wat tussen kapitalisme en staatsbeheerde sosialisme val. Net soos wat kapitalisme in verskillende gedaantes voorkom, verskil baantjies vir boeties stelsels ook van mekaar afhangend van institusionele verskille.

Alhoewel sommige ontleders baantjies vir boeties as ‘n oorgangsfase tussen kapitalisme en sosialisme beskou, is Karam van mening dat baantjies vir boeties en sosialisme baie dieselfde is, behalwe vir die grootte van die boonste groep “boeties”.

Volgens Karam, in gemeenskappe met ‘n kultuur van baantjies vir boeties neem ‘n groter groep ‘n groter wordende deel van die samelewing se rykdom vir hulself en hul assosiate. In sosialistiese stelsels ding ‘n kleiner groep verwoed mee om rykdom en mag: omdat vermeende egalistiese ekonomieë gewoonlik minder doeltreffend is wat die generering van rykdom betref, kan daar minder wees om te deel, wat die interne magstryd onder sosialistiese leiers baie feller maak.

Dit verduidelik dalk waarom lande wat vir hul kultuur van baantjies vir boeties bekend is, nietemin geneig is om een of ander vorm van ‘n kapitalistiese markekonomie voor te staan danksy die vermoë daarvan om welvaart te skep. China is ‘n goeie voorbeeld hiervan. ‘n Florerende ekonomie wat vinnig groei is per slot van rekening nodig om te verhoed dat baantjies vir boeties tot ‘n einde kom wanneer daar nie meer rykdom in die samelewing beskikbaar is nie. Traer ekonomiese groei sal baie gou die onderliggende institusionele en strukturele tekortkominge van die ekonomie aan die lig bring.

‘n Ongewone Suid-Afrikaanse ongerymdheid is dus die kombinasie van baantjies vir boeties en lae groei, met laasgenoemde wat nie ‘n prioriteit vir regstelling is nie. Maar soos Sarah Chayes, terwyl sy Robert Rotberg aanhaal, skryf, “if their (cronyists’) activity “destroys developmental prospects” and is “antithetical to economic growth and social betterment” in their country, that is of no concern whatsoever. Bettering their country’s prospects is not their objective. Making money is.”

The Economist vra die vraag of baantjies vir boeties net ‘n fase van die globaliserende wêreldekonomie was wat ‘n hoogtepunt bereik het weens veranderende ekonomiese toestande (bv. laer grondstofpryse het die persoonlike voordele verminder wat uit die hulpbronnesektor verkry kon word – een van die belangrikste bronne van wins vir “boeties”), asook die teenreaksie van ‘n groeiende middelklas in die ontluikende wêreld. Chayes rverwys na “an anticorruption Zeitgeist that has swept the world in the past decade”. The Economist wys egter daarop dat hervorming moeilik is selfs in lande waar die middelklas dit teenstaan (Brasilië, Indië, Meksiko en Maleisië, om net ‘n paar te noem).

Deur baantjies vir boeties tussen kapitalisme en sosialisme in die konstellasie van ekonomiese stelsel te plaas, het Karam egter ‘n belangrike punt oor die hoof sien, naamlik die voorkoms van staatskapitalisme en sy verband net baantjies vir boeties as ‘n vierde alternatief.

Onder staatskapitalisme sal die regering ‘n verreikende invloed op ekonomiese bedrywighede hê, met staatsondernemings wat dikwels aan die spits van sy pogings staan. Alhoewel staatskapitalisme voordele kan inhou deur bepaalde doelwitte, bv. infrastruktuursontwikkeling, te bereik, leen dit hom tot politieke inmenging, baantjies vir boeties en korrupsie. Brasilië is ‘n goeie voorbeeld van hoe staatskapitalisme gebruik kan word as ‘n dekmantel vir korrupte bedrywighede wat bepaalde individue ten koste van die algemene publiek bevoordeel.

Al slaag die openbare protes teen baantjies vir boeties in Suid-Afrika daarin om die huidige verderf te keer, sal dit dus nie genoeg wees om die saak eens en vir altyd op te los nie. As gevolg van die Suid-Afrikaanse publiek se unieke verwagtinge van die regering om die ekonomie in ‘n billiker opset te omvorm, sal konstante waaksaamheid nodig wees om magsmisbruik in die stelsel – waarvan die moontlikheid altyd teenwoordig is – te voorkom.

In sy uiteensetting van 14 stappe wat ’n land kan neem om korrupsie te beveg, begin Robert Rotberg6 met die noodsaaklikheid daarvan om ’n politieke leier te identifiseer en te verkies wat hervorming kan dryf. Maar hoewel ’n verandering in politieke leierskap noodsaaklik is om met korrupsie af te reken, is dit nie voldoende nie weens die taaiheid van korrupsie-netwerke. Die teenstrydigheid van ’n kleptokrasie met demokratiese praktyk moet dringend opgelos word.

1Sarah Chayes: Kleptocracy in America. Corruption Is Reshaping Governments Everywhere. Foreign Affairs. September/October 2017.

2The Party Winds Down. The Economist. 7 May 2016.

3Minxin Pei: China’s Crony Capitalism. The Dynamics of Regime Decay. Harvard University Press. 2016.

4Peter Podkopaev and Natalie Duffy: Russia's Pothole Predicament Beneath the Pavement, Corruption. Foreign Affairs Snapshot 10 August 2017.

5Sami J. Karam: Capitalism Did Not Win the Cold War. Why Cronyism Was the Real Victor. Foreign Affairs Snapshot. 19 July 2017.

6Robert Rotberg: The Corruption Cure: How Citizens and Leaders Can Combat Graft. Princeton University Press. 2017.

Sanlam Life Insurance is a licensed financial service provider.
Copyright © Sanlam