Skip Ribbon Commands
Skip to main content
Skip Navigation LinksMedia Centre

​​​​​​

 

Die verslag kyk na ervarings oor die wêreld heen en gee veral aandag aan die redes vir hierdie toedrag van sake en watter beleidstappe gedoen kan word om dit om te keer. Dit verwys net terloops na Suid-Afrika maar laat die besonderhede om ingevul te word.

Volgens die verslag is die afname in private vaste investering hoofsaaklik ‘n verskynsel wat in ontwikkelde ekonomieë voorkom en is dit in ooreenstemming met die daling in produksie ná die krisis (met uitsondering van die Europese randlande, wat die swakste gevaar het weens finansiële beperkings en beleidsonsekerheid). As ‘n groep vaar opkomende en ontwikkelende ekonomieë redelik goed.

Indien China (wat in 2009 ‘n aggressiewe beleid begin toepas het om kapitaalbesteding te stimuleer om die uitwerking van die wêreldwye resessie op sy ekonomie teen te werk) egter uitgesluit word uit hierdie groep, toon die res van die opkomende en ontwikkelende ekonomieë ‘n soortgelyke trae herstel. Redes wissel van land tot land maar sluit die deurwerking van swak internasionale vraag en laer kommoditeitspryse asook finansiële beperkings in.

Suid-Afrika volg ook hierdie patroon en private investering het kumulatief met ongeveer 15% gedaal vanaf ‘n hoogtepunt in 2008 in vergelyking met ‘n daling van 25% in die ontwikkelde ekonomieë. Private investering het nietemin afgeneem van 70% van totale investering in 2007 tot 63% in 2014.

Die hoofrede vir die daling in investering in die private sektor word geag die swak vraag (met ‘n groot deel van die produksieverlies wat nou as permanent beskou word) en die onsekerheid oor die vooruitsigte vir die toekomstige tendens in vraaggroei te wees. Daar is dus ‘n wisselwerking tussen die afname in investering en die hipotese van sekulêre stagnasie, wat ‘n lus van negatiewe reaksie skep. Swak vraag weens laer moontlike ekonomiese groei druk investering deur ondernemings neer, en laer beleggingsbesteding dra weer by tot die daling in potensiële groeikoerse. In sommige lande speel swak openbare investering ook ‘n rol by die neerdrukking van private investering.

In die geval van Suid-Afrika het die algemene swakheid van die ekonomie gewis ook ‘n rol gespeel om investering deur private ondernemings neer te druk. Alhoewel die 2009-resessie betreklik vlak was, het die ekonomie se onvermoë om sterk te herstel en die verlangsaming in groei oor die afgelope drie jaar hul tol geëis. Die besef dat Suid-Afrika se potensiële groeikoers op lang termyn nadelig beïnvloed is en nou op net 2 – 2,5% staan, sal vanselfsprekend veroorsaak dat ondernemings hul uitbreidingsplanne heroorweeg.

Volgens die IMF is ander redes blykbaar van minder belang. Finansiële beperkings (veral die beskikbaarheid van krediet) raak hoofsaaklik nywerhede wat relatief meer afhanklik van eksterne finansiering is. Groot klem word veral op beleidsonsekerheid gelê, maar die verslag kom tot die gevolgtrekking dat dit slegs in ‘n minderheid van gevalle (veral sektore wat deur ondeelbare, onherroeplike investering gekenmerk word) ‘n rol gespeel het, omdat die groei in vaste investering in die private sektor oor die algemeen nie swakker as BBP-groei was nie.

Die IMF is egter van mening dat ander redes as swak vraag steeds ‘n groot rol speel by die beperking van private investering in Suid-Afrika. Hulle noem spesifiek strukturele en infrastruktuurknelpunte (waarvan die beskikbaar van elektrisiteit een van die belangrikste op kort termyn is), swak sakevertroue en politieke onsekerheid (waarskynlik bedoelende beleidsonsekerheid).

Wat laasgenoemde betref, word dikwels melding gemaak van die regering se ideologiese inkonsekwentheid. Alhoewel die Nasionale Ontwikkelingsplan kwansuis as ‘n bloudruk vir beleidsformulering aanvaar is, bly die implementering daarvan swak en gefragmenteerd en verskillende afdelings van die regering is geneig om dit te vertolk om by hul eie agendas te pas.

Wat die sektorale impak van beleidsonsekerheid betref, is landbou, mynbou en vervaardiging stellig die sektore wat die swaarste getref is. Alhoewel vaste investering in die mynbousektor tot dusver bestendig was (bestaande projekte moet vanselfsprekend voortgaan en deurlopende investering is nodig om produksie vol te hou), is die skerp afname in prospektering vir minerale, wat tans op ‘n kwart van die 2007-vlak staan, opvallend. In die landbou- en vervaardigingsektore staan die vastekapitaalvoorraad stil op vlakke wat voor die krisis geheers het.

In baie lande is swak investeringsbesteding deur ondernemings in teenstelling met die daling in die koste van kapitaal en sterk aandelemarkte in die besonder opvallend. Die verslag maak egter geen melding nie van die feit dat swak investeringsbesteding ‘n bydraende faktor is tot die prestasie van aandelemarkte aangesien dit maatskappye in staat stel om hul dividende met meer te verhoog as wat hul bedryfsprestasie sou regverdig en groot bedrae geld toe te wys aan die terugkoop van hul eie aandele, wat sodoende verdienste per aandeel verhoog en waardasiemaatreëls soos prys-verdienste-verhoudings binne redelike perke hou terwyl aandelepryse herhaaldelik nuwe rekordsvlakke behaal. Volgens ‘n berig in die Financial Times van 12 April 2015 is Amerikaanse maatskappye voornemens om vanjaar $1 triljoen aan aandeelhouers terug te betaal weens ‘n tekort aan aantreklike investeringsgeleenthede.

Die JSE is ook sterk, in pas met internasionale markte en sterker as die ekonomie. ‘n Mens kan maar net hoop dat die optimisme wat in stygende aandelepryse weerspieël word uiteindelik sal oorspoel na ‘n verbetering van sakebedrywigheid. Vir dit om te gebeur, sal dringend aandag gegee moet word aan die verbetering van die potensiële ekonomiese groeikoers en die herstel van sakevertroue.

Sanlam Life Insurance is a licensed financial service provider.
Copyright © Sanlam