Skip Ribbon Commands
Skip to main content
Skip Navigation LinksMedia Centre

​​​​​​

 

Uit ‘n makro-ekonomiese oogpunt bevat dit feitlik alle tersaaklike inligting (bygewerkte ekonomiese aannames asook die kern- fiskale syfers), en verskaf die hoofbegroting in Februarie net die fyner besonderhede.

In die lig van die stram fiskale situasie waarin Suid-Afrika hom tans bevind, sal vanjaar se MTBBV op uitvoerbaarheid en geloofwaardigheid moet fokus. Die stabilisering van staatskuld en die herwinning van fiskale ruimte is groot uitdagings wat nog vir baie jare streng finansiële bestuur sal verg.

Die situasie is egter nie net negatief nie. Soos in die meegaande tabel aangetoon, was begrotingsuitkomste sedert ná die skok van die resessie in 2009 sonder uitsondering beter as wat aanvanklik verwag is.

 

Gekonsolideerde begrotingstekort R’miljard (% van BBP)
BegrotingsjaarOorspronklike begrotingWerklike uitkoms of jongste raming
2010/11-168.6 (-6.2)-117.1 (-4.3)
2011/12-154.8 (-5.3)-110.8 (-3.7)
2012/13-153.5 (-4.6)-135.9 (-4.3)
2013/14-163.7 (-4.6)-138.8 (-4.0)
Bron: Begrotingsoorsigte 2010-2014

 

In die beginjare was dit deels as gevolg van die feit dat staatsuitgawes laer was as waarvoor aanvanklik begroot is ondanks die skerp styging in die owerheidsektor se loonrekening, wat grotendeels die gevolg van die staat se onvermoë wat betref kapitaalbesteding is. In 2010/11 én 2011/12 was werklike uitgawes ongeveer R27 miljard minder as waarvoor aanvanklik begroot is. Die afwykings het in later jare afgeneem.

Die kleiner as verwagte tekorte is deels ook die gevolg van positiewe inkomste-afwykings van die begroting, ondanks die afname in belasting ontvang van die korporatiewe sektor en swakker as verwagte ekonomiese groei. Die kumulatiewe oorskotinkomste in vergelyking met die oorspronklike bedrae wat vir die vier begrotingsjare vanaf 2010/2011 tot 2013/14 begroot is, beloop R71,6 miljard. Belastinginkomste het van 24,4% van BBP in 2010/11 tot 25,5% in 2013/14 gestyg, wat nogtans steeds laer is as in 2008/09 toe belastinginkomste 26,7% van BBP bedra het.

Die beter as verwagte prestasie het egter nie die voortsetting van ‘n primêre begrotingstekort en stygende staatskuld tot ‘n verwagte netto hoogtepunt van 57,1% van BBP, insluitend voorwaardelike verpligtinge, in 2016/17 verhoed nie. Leningswaarborge aan Eskom is die grootste bydraer tot laasgenoemde.

Die toekoms gaan baie meer uitdagend wees, soos bevestig in die 2014 Begrotingsoorsig. Volgens die Oorsig hou ekonomiese onsekerheid en die owerheidsektor se loononderhandelings ‘n gevaar vir begrotingsvooruitsigte in, terwyl die 2013 Mediumtermynbegrotingsbeleidsverklaring ook die styging in staatskuld en die balansstate van staatsondernemings noem.

Wat laasgenoemde betref, weet ons reeds dat Eskom toegelaat sal word om sy lenings (met ‘n regeringswaarborg) met ‘n verdere R50 miljard te vergroot en ook ‘n ongespesifiseerde kapitaalinspuiting gaan ontvang. (Eskom self het aangedui dat hy R50 miljard in bykomende kapitaal benodig.) Dit is nogtans bemoedigend dat die regering voorsien dat die beloofde kapitaalinspuiting vir Eskom deur die verkoop van nie-kernbates gefinansier sal word.

Dit is egter ook bekend dat ander staatsondernemings reeds besig is om hul kleim vir bykomende staatshulp af te steek. Die moontlikheid is reeds genoem dat SAL in die besonder ‘n kapitaalinspuiting soortgelyk aan dié van Eskom, d.w.s. R50 miljard, benodig om te oorleef.

Wat die owerheidsektor se loononderhandelings betref, maak die huidige ooreenkoms wat in 2015 verstryk voorsiening vir jaarlikse verhogings van inflasie plus 1% en dit is onwaarskynlik dat die bestaande mediumtermynbestedingsraamwerk vir meer as dit toelaat. Die skerp styging in die owerheidsektor se loonrekening die afgelope vyf jaar tot nagenoeg 40% van gekonsolideerde nie-rente uitgawes beteken dat die impak van ‘n groter verhoging as waarvoor begroot is proporsioneel groter sal wees as in die verlede – elke bykomende 1%-loonverhoging sal die begrotingstekort met 0,12% van BBP verhoog.

Maar moontlik hou ekonomiese onsekerheid, veral die vooruitsigte vir ekonomiese groei, die grootste gevaar vir die volhoubaarheid van Suid-Afrika se staatsfinansies op lang termyn in. Per slot van rekening is dit nie net die korttermyn sikliese vooruitsigte vir die ekonomie wat ter sake is nie, maar ook die langtermyn potensiële groeikoers van die ekonomie.

Volgens die 2014 Begrotingsoorsig sal die faktore wat die lewenskragtigheid van inkomste in 2013/14 aangedryf het, na verwagting nie voortduur nie en sal inkomstegroei op mediumtermyn BBP nouer navolg. Moontlike groeiteleurstellings sal dus ‘n bedreiging vir inkomstevooruitskattings wees.

Ten einde met die onseker groeivooruitsigte rekening te hou, sal die Nasionale Tesourie ter wille van groter realisme hom daarvan moet weerhou om aanhoudend versnellende ekonomiese groei te voorspel (kyk die meegaande grafiek) ten spyte daarvan dat werklike groei herhaaldelik drasties laer as verwag was. Klaarblyklik het hy óf die siening dat ‘n herstel ná groot finansiële krisisse geneig is om stadig en langdurig te wees nie, verwerp, óf hy het gereken dat die Suid-Afrikaanse ekonomie die res van die wêreld sal uitpresteer. Hy kan dit egter nie langer bekostig nie.

Groeivooruitskattings ten Tyde van die Begroting

Daar is egter ‘n meer fundamentele kwessie waaraan aandag gegee moet word by die toekomstige bestuur van Suid-Afrika se fiskale sake, naamlik hoe die staat behoort te lyk in ‘n wêreldomgewing van sekulêre stagnasie, wat al hoe meer ‘n moontlikheid word wat nie geïgnoreer kan word nie.

In die verlede het ekonomiese groei in Suid-Afrika ‘n hoë korrelasie getoon met wêreldgroei. Die enigste keer in die afgelope twintig jaar (2005-2007) wat die ekonomie ‘n groeikoers van 5%+ per jaar vir ‘n tyd kon volhou was toe dit deur ‘n globale voorspoedgolf, insluitend in kommoditietsmarkte, aangehelp is. Hierdie toedrag van sake sal waarskynlik voortduur solank Suid-Afrika in gebreke bly om sy eie interne groeidinamika te ontwikkel, wat afhang van sy vermoë om die vereiste strukturele veranderings te implementeer wat hom al so lank ontwyk.

Die huidige debat oor die gevaar van sekulêre stagnasie in die ontwikkelde wêreld* is dus van die allergrootste belang vir Suid-Afrika se groeivooruitsigte. Die ondervinding van die laaste paar jaar het die idee dat dat opkomende ekonomieë hulle kan losmaak van tendense in die ontwikkelde wêreld die nek ingeslaan. Dit is moeilik om te sien hoe Suid-Afrika in ‘n stagnante wêreld ‘n lewenskragtige ekonomie kan hê, veral as sy selftoegediende beperkings ook nog in berekening gebring word.

Dit is dus noodsaaklik dat kennis geneem word van die sekulêre daling in die potensiële groeikoers van die Suid-Afrikaanse ekonomie tot ongeveer 2,5% per jaar tans, vergeleke met 3,5% in die verlede. Dit werp verskeie vrae op oor die staatsfinansies indien ekonomiese groei vir die volgende dekade of langer gemiddeld sê maar 2,5% sou wees.

  • Hoe ‘n groot staatsektor sal Suid-Afrika kan bekostig?
  • Wat moet die staat se prioriteite onder sulke omstandighede wees?
  • In watter volgorde moet aandag gegee word aan die uitdagings waarvoor Suid-Afrika staan?
  • Wat sal dit vir die bekostigbaarheid van nuwe beleidsinisiatiewe beteken?
  • Hoe sal groter doeltreffendheid met betrekking tot staatsuitgawe bewerkstellig word?
  • Hoe sal lopende uitgawes verminder word ten gunste van hoër kapitaalbesteding om in die ekonomie se uitgebreide infrastruktuurbehoeftes te voorsien?
  • Wat is die implikasies vir die verloop van die staatskuld, inaggenome dat lae groei waarskynlik met relatief hoë langtermynrentekoerse gepaard sal gaan?
  • Wat is die vereiste primêre oorskot om die verlangde tempo van skuldvermindering op koers te hou? Hoe gaan hierdie oorskot bewerkstellig word?

Ter opsomming: Die MTBBV sal bewys moet lewer dat die Suid-Afrikaanse regering volkome bewus is van hoe beperk die hulpbronne tot sy beskikking is en vir die afsienbare toekoms sal wees en dat hy gewillig is om die vereiste afruilings wat dit impliseer, te maak. Aan die einde van die dag sal ekonomiese realiteite ideologiese voorkeure troef – die probleem is dat enrstige skade aan die ekonomie aangerig kan word voordat hierdie besef deurdring.

*Kyk byvoorbeeld die Vox e-boek, “Secular Stagnation: Facts, Causes and Cures” wat onlangs verskyn het en beskikbaar is by http://www.voxeu.org/content/secular-stagnation-facts-causes-and-cures, en die 2014 Genève Verslag oor die Wêreldekonomie, “Deleveraging? What Deleveraging?”, beskikbaar by http://www.voxeu.org/content/deleveraging-what-deleveraging-16th-geneva-report-world-economy.

Sanlam Life Insurance is a licensed financial service provider.
Copyright © Sanlam