Skip Ribbon Commands
Skip to main content
Skip Navigation LinksMedia Centre

​​​​​​

 

Die direkte gevolge van die krisis vir Suid-Afrika is voor die hand liggend, byvoorbeeld die onstuimigheid in Suid-Afrikaanse finansiële markte in 2008-2009, die 2009-resessie en die gepaardgaande daling in staatsinkomste, die hervorming van finansiële regulering in navolging van internasionale tendense, die verhoging van Suid-Afrika se internasionale profiel as lid van die nuutgestigte G20-groep en later die BRICS-lande, en die verskuiwing in Suid-Afrika se buitelandse handel van Europa na China.

'n Mens moet egter nie die indirekte gevolge en die langdurige uitwerking daarvan uit die oog verloor nie.

Vanuit 'n Suid-Afrikaanse oogpunt kon die finansiële krisis waarskynlik nie op 'n slegter tydstip gebeur het nie. Die krisis het Suid-Afrika in 'n tydperk van politieke oorgang en beleidsverlamming in die nadraai van die ANC se kongres te Polokwane in Desember 2007, getref. Suid-Afrika het 'n tussentydse president in die persoon van mnr. Mothlanthe gehad en alles was in afwagting van die 2009-verkiesing en mnr. Zuma se aanvaarding van die presidentskap, waarna dit noodwendig tyd sou neem vir die nuwe administrasie om op dreef te kom.

Die uiteinde was nie net 'n verandering van president nie, maar effektief 'n verandering van regering. Hoewel dit in naam steeds dieselfde party was wat aan bewind was, het die post-Polokwane ANC in vele opsigte van sy voorganger verskil, in die besonder wat sy ekonomiese ideologie betref. Die verandering van mnr. Mbeki se bewind na diê van mnr. Zuma was meer vergelykbaar met 'n regeringsverandering in, sê, Brittanje vanaf die Konserwatiewe Party na die Arbeidersparty. Hierdie diskontinuïteit het 'n deurslaggewende rol in die Suid-Afrikaanse regering se reaksie op die internasionale krisis gespeel.

Die nuwe Zuma-kabinet het 'n aantal ministers met 'n sterk ideologiese voorkeur vir 'n groter rol vir die staat in die ekonomie ingesluit en hulle het die finansiële krisis as regverdiging vir hulle standpunt beskou. Vir hulle was dit die einde van neo-liberalisme ('n hoogs misbruikte term, maar dit daar gelaat) en die aankondiging van die oorwinning van die ontwikkelingstaat – die krisis het immers sy oorsprong in die VSA gehad en nie in China nie! (hoewel die uiteinde van die skerp toename in krediet in China sedert 2008 van 130% tot 200% van BBP nog onseker is).

Ongelukkig is die foute van die internasionale beleggingsbanke veralgemeen asof dit tiperend van die private sektor in sy geheel is en die sakesektor dus onder die gesag van die staat geplaas moet word om te verseker dat dit sosiaal verantwoordelik optree. Dit is een van die grondoorsake van die spanning tussen die staat en die sakegemeenskap waarmee ons vandag opgesaal sit.

Die krisis het die nadele van 'n gebrekkige skeiding tussen staat en regerende party na vore gebring. Die oorheersende rol van die ANC as politieke party in die beleidmakingsproses en die institusionalisering daarvan in kongresbesluite wat elke 5 jaar geneem word, het 'n gebrekkige aanpasbaarheid by veranderende omstandighede tot gevolg. Besluite wat in Desember 2007 in Polokwane geneem is, is gevolglik uitgevoer sonder om rekening te hou met die impak van die finansiële krisis op die Suid-Afrikaanse ekonomie.

Tweedens het die krisis die klimaat geskep vir 'n wêreldwye verswakking in fiskale parameters teen die agtergrond van die Groot Resessie. Anti-sikliese fiskale beleid à la Keynes was aan die orde van die dag en daar is van lande wat oor die nodige fiskale ruimte beskik het, verwag om nie net in eie belang nie maar in belang van die groter saak hul ekonomieë te stimuleer. Suid-Afrika was een van hierdie lande (met 'n begrotingsurplus en lae vlak van staatskuld) en beleidvormers het verwys na die “shovel ready" kapitale projekte wat geïmplementeer kon word.

Die uiteinde was ongelukkig heel anders: 'n skerp toename in verbruiksbesteding deur die staat, veral maatskaplike toelaes en die loon- en salarisrekening, wat deur lenings gefinansier is, is as anti-sikliese beleid geregverdig. Vergeleke met sy portuurgroep het Suid-Afrika die grootste negatiewe ommeswaai in sy fiskale posisie gehad vir die kleinste voordeel in terme van groei en indiensneming. Die verlies aan groeimomentum in die ekonomie die afgelope twee jaar toon dat hierdie stimulus geen blywende voordele gehad het nie.

Die krisis het dus die grondslag gelê vir die fiskale verknorsing waarin Suid-Afrika hom vandag bevind. Om binne 'n redelike tyd uit die knyptang van stadig groeiende staatsinkomste en 'n wanbalans in staatsbesteding ten koste van kapitaalbesteding te ontsnap, gaan meer vereis as om die remme aan te draai soos in die afgelope mediumtermynbegroting in die vooruitsig gestel is – indien owerheidsverbruiksbesteding nie in absolute terme verlaag word nie, sal die vryheidsgrade waarbinne die staat ekonomiese beleid voer vir jare uiters beperk bly.

Die derde indirekte gevolg van die finansiële krisis vir Suid-Afrika was dat dit die haalbaarheid van 'n volgehoue groeikoers van 6%+ as 'n illusie aan die kaak gestel het. Die impak van die Groot Resessie op die Suid-Afrikaanse ekonomie het ons afhanklikheid van internasionale meevallers soos skerp stygings in kommoditeitspryse en die invloei van buitelandse kapitaal weereens beklemtoon. Suid-Afrika se potensiële groeikoers van 3,5% is herbevestig en die vraag word selfs gestel of dit nie laer is nie.

Suid-Afrika se onvermoë om 'n omvattende groeibeleid te formuleer en oor 'n lang tydperk daarby te hou, is ook andermaal ontbloot. Die politieke diskontinuïteit waarna hierbo verwys is, het hiertoe bygedra. Bo en behalwe dat GEAR nooit ten volle geïmplementeer is nie, het ASGISA ná Polokwane 2007 'n stille dood gesterf. In sy plek het eers die Nuwe Groeipad gekom, gevolg deur sy kleinboetie, die Nywerheidsbeleidaksieplan. Ten spyte van hierdie planne het die prestasie van die ekonomie steeds agteruit gegaan.

Nog later het die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP) met sy langtermynvisie gevolg. Selfs indien die huidige onenigheid oor die NOP uit die weg geruim sou word, sal daar steeds twyfel bestaan oor Suid-Afrika se vermoë om vir 20 of 30 jaar, deur regeringsveranderinge heen, met so 'n strategie te volhard.

Die vraag of die finansiële krisis globaal 'n nuwe tydvak ingelui het, weerklink dus ook in Suid-Afrika. Hoe daardie tydvak daar sal uitsien, is reeds besig om te ontvou en tot dusver is dit ongelukkig nie 'n positiewe prentjie nie. Om dit om te keer, is 'n uitdaging, maar nie onmoontlik nie.

Sanlam Life Insurance is a licensed financial service provider.
Copyright © Sanlam